Franse Rewolusie

Spotprent oor die Franse Rewolusie

Die term Franse Rewolusie verwys na die tydperk tussen 14 Julie 1789 en 9 November 1799 in Frankryk toe Republikeinse magte die absolute monargie afgeskaf het. Die oorgang in 'n republikeinse staatsvorm, die Eerste Franse Republiek, het gepaard gegaan met die skeiding van staat en kerk, die afkondiging van talle regte soos die reg op persoonlike vryheid, pers- en meningsvryheid en die gelykheid van alle burgers voor die wet.

Met die beginsel van die volksoewereiniteit is 'n grondwet met regspligte waaraan die staat moes voldoen, 'n onafhanklike regstelsel, algemene stemreg, regverdige belastingwetgewing, beroepsvryheid en ander regte ingevoer.

Die rewolusionêre tydperk in Frankryk is egter ook gekenmerk deur willekeurige geweld, wat in die terreur onder Maximilien Robespierre 'n bloedige hoogtepunt bereik het. Hoewel die republikeinse staatsvorm in Frankryk eers in 1871 gevestig is, was die Franse Rewolusie een van die ingrypendste historiese omwentelings, nie net vir Frankryk en Europa nie, maar die hele wêreld. Die verreikende gevolge wat dit vir die Westerse beskawing ingehou het, lê ingekerf op menige terreine wat wissel van die staatkundige tot die maatskaplike en ideologiese.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search